|
Die Sabbi teelprogram is `n moderne konvensionele teelprogram wat nuwe tegnologie soos Merkerseleksie en verdubbelde haploïed produksie inkorporeer. Die doel van die teelprogram is om handelsmerk georiënteerde gars te ontwikkel met superieure:
| • Opbrengspotensiaal |
• Siekteweerstand |
| • Omgewingstabiliteit |
• Moutkwaliteit |
| • Argonomiese eienskappe |
• Broukwaliteit |
Die program het ontstaan toe Sensako in 1978 begin het met die evaluering van beskikbare kommersiële kultivars in die Suid-Kaap. Die oogmerk van hierdie program was en is steeds om so veel as moontlik oorsese kultivars te bekom en te evalueer met die oog op kommersiële verbouing in Suid-Afrika.
Nadat dit geblyk het dat welslae met die introduksieprogram beperk sal wees weens die swak aanpassing van die introduksies in die Suid-Kaap is besluit dat `n eie teelprogram begin moet word. Die program is in 1983 op `n beperkte skaal begin en het geleidelik ontwikkel tot die huidige formaat.
`n Tweede produksie-area is ontwikkel in die besproeiingsgebied van die Noord-Kaap na ‘n intensiewe evaluasie vir kultivaraanpassing en produksiepraktyke deur SAB Maltings. Produksie is toe op `n klein skaal in 1994 begin. Evaluasie het daarop gedui dat kultivars van, veral, Europa redelik goed aangepas is in hierdie omgewing. Die fokus van ons program was aanvanklik slegs op die evaluasie van Europese en ander introduksies, maar is later uitgebrei tot `n volledige teelprogram, hoewel nie op dieselfde skaal as die Suid-Kaap program nie.
Introduksies word steeds in beide produksiegebiede getoets, en ‘n totaal van 626 kultivars en gevorderde lyne van al die belangrikste garsproduserende lande is reeds getoets. Introduksies met die beste kwaliteits-, siekte- en agronomiese eienskappe word geselekteer om gebruik te word as kiemplasma in kruisings met plaaslik ontwikkelde genotipes om rekombinante met superieure genetiese eienskappe te ontwikkel.
|